Wat om nooit vir jou kleuter te sê nie en hoekom nie

Moet nooit stilletjies verdwyn sonder om vir jou kleuter voor te berei op jou afwesigheid nie.

Alle kinders ervaar skeidingsangs op stadiums in hulle ontwikkeling en dit is dus ʼn normale grootword verskynsel. In die peuterfase is daar weer ʼn natuurlike opvlam in skeidingsangs rondom 3 jaar. Skeidingsangs kan verlig word deur ʼn konsekwente roetine te handhaaf. Die daaglikse verloop van gebeure moet dus sover moontlik voorspelbaar wees vir jou kind. Wanneer daar iets gaan gebeur wat buite die normale roetine is help dit om jou kind vooraf voor te berei, veral as dit skeiding van jou as primêre versorger gaan behels. Wees spesifiek in wat gaan gebeur en vir hoe lank jy gaan weg wees deur na merkers in die kind se roetine te verwys. Hier is ʼn voorbeeld van so gesprek: “ Mamma gaan vanmiddag uit om saam met tannies te leer oor tuinmaak. Ek gaan ry net na ons middagete geëet het en sal terug wees net na rustyd wanneer jy wakker word. Ons helper, Maria, sal heeltyd hier by jou bly en sal jou help om te gaan rus na ete.”

“As jy nie nou na mamma luister nie, gaan jy nie Saterdag saam na die partytjie gaan nie”.

Moet nooit dreigemente maak wat jy nie gaan uitvoer nie. Straf en beloning moet onmiddellik geskied na die gewenste of ongewenste gedrag om effektief te wees. Kommunikeer eerder dat jy gehoorsaamheid verwag deur vir jou kleuter die volgende mantra te leer: “Hoe luister mens?” en die antwoord, “dadelik en sonder teepraat”. Wanneer jou kleuter dan wel ongehoorsaam is vra net: “Hoe luister mens?” en gewoonlik is dit genoeg vir jou kind om verantwoordelikheid vir sy of haar eie gedrag te besef en gedrag te wysig, al dan nie te weet dat daar gevolge gaan wees vir ongehoorsaamheid.

“Jy kan net poeding kry as jy jou kos opgeëet het”.

Hierdie tipe stelling laat jou kleuter net fokus op die poeding, die “verbode vrug” en ontlok meestal ‘n magstryd. Kleuters het nog nie die kognitiewe vermoe van rasionele denke, met ander woorde oorsaak- en gevolg denke nie. Dit ontwikkel eers hier vanaf 8 tot 10 jaar. Hulle dink net in konkrete, ego-sentriese wyses. ‘n Kleuter se gedagtes sal na so ‘n stelling net vassteek by “Ek wil nou poeding hê!” Maak eerder ‘n algemene tafelreël van “Ons eet eers kos en dan poeding.”

“As julle so baklei met mekaar gaan ek vir julle ‘n ander mamma soek!”

Wanneer jy jou humeur verloor as ouer byt op jou tande en moenie oorgee aan die versoeking om jou eie frustrasie en woede te ontlaai deur stellings te maak wat jy nie regtig bedoel nie. Kinders dink letterlik en konkreet en het nog nie die vermoë vir abstrakte, rasionele denke nie. Hulle kan dus nie subteks of sarkasme verstaan nie.

Wees konsekwent met dissipline.

Hou by ‘n paar grondreëls in julle huis en pas straf saam met instruksie konsekwent toe. Kinders het reëls en grense nodig om emosioneel veilig en geliefd te voel. ‘n Voorbeeld van so ‘n reël is; “As mamma roep moet ek dadelik kom sonder teëpraat”.

“Mamma en pappa is so trots op jou , jy is die slimste, mooiste, oulikste (…ste) kind”

Hierdie tipe oorkoepelende stellings kommunikeer druk om altyd die beste en uitblinker te wees. Niemand kan die beste, slimste, mooiste, oulikste, ens, altyd wees nie. Jou kind kan onmoontlik die uitblinker op elke terrein wees, daar sal altyd ‘n slimmer of mooier ander kind wees. Se eerder: “Ons is so trots dat jy aanhou probeer het om die bal te vang totdat jy dit reggekry het”. Maak jou prys spesifiek en fokus eerder op karaktertrekke soos eerlikheid, empatie en deursettingsvermoë.

  • Share post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *